Home

About

Articles

Ons

Site Map

Laai hierdie artikel “Christus lewe in my.pdf” hier af.

Christus Leef in My

                          Deur Warren Litzman

Die Finale Sleutel vir die Skrif

Op my pad met God het ek deur ten minste sewe verskillende stadiums gegaan, waar ek elke keer tot ‘n bepaalde insig in God se plan gekom het. In elke stadium was ek oortuig dat die siening wat ek op daardie tydstip gehuldig het, my sleutel was om die Skrif te ontsluit. Ek het die hele Woord van God vertolk volgens daardie bepaalde siening. Al wat ek kon sien was dat daardie een sleutel noodsaaklik was om God te leer ken. Elke groepie gelowiges wat deel vorm van die Christendom het hulle eie sleutel vir die Skrif. Vir party is dit die onderdompelingsdoop, vir andere is dit kerklidmaatskap en kategese; vir sommige is dit om in tale te spreek en die gawes van die Gees, terwyl dit vir andere wonderwerke en geloof is. Ek het ook geglo dat sommige van daardie uiterlike handelinge – óf dit die doop is, gesondmaking óf die spreek in tale – die sleutel tot die Skrif gebied het. Helaas, geeneen van die sleutels kon aan die einde van die dag dit ontsluit nie. Toe eendag, kom ek agter dat ek by die finale sleutel uitgekom het – want ek het nou tot ‘n openbaring van Christus gekom, die Alfa en die Omega, die begin en die einde. Daardie openbaring het my gewys, soos wat Paulus 146 keer in sy geskrifte sê: Christus leef in my. Nou sien ek Hom as my enigste lewe. Ek besef dat al my soeke na God, en die deurgaan van elke stadium volgens my siening op daardie tydstip, was om my na die volheid van Christus te lei. Nou sien ek Christus as alles, en daarom is ek vry om dít te word wat die Vader se einddoel was vir my.

Twee Bybelse Ervarings

Ek is van mening dat gelowiges wat tot die volheid van Christus kom ten minste twee Bybelse ervarings kan ondervind wat hulle tot daardie punt bring. Hierdie twee ervarings kan saamval, of die een voor die ander een plaasvind, veral as die gelowige ontbloot is aan ware evangelieprediking en die lering van die Helige Gees. Ongeag tydelike omstandighede en ander uiterlike manifestasies, wat belangrik is hier, is die die impak van hierdie twee ervarings op die gelowige in terme van die geesteswêreld. Kom ons noem die twee ervarings die Johannes 3:16 en die Galasiërs 2:20 ervarings.

Die Wedergeboorte:  Joh. 3:16

Kom ons kyk vlugtig na elkeen van hierdie twee ervarings, beginnende met Joh. 3:16. Die Joh. 3:16 ervaring behels die wedergeboorte. Dis nie moontlik om in die Here ten volle dit te bereik wat God beoog het vir die gelowige, as daar geen wedergeboorte ervaring is nie. In die Christendom word die 16 de vers van hoofstuk 3 van Johannes se evangelie erken as die sleutelvers wat daardie ervaring omskryf: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Ook in daardie kosbare hoofstuk , sê Jesus vir Nikodemus: “… as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Joh. 3:3). En in Joh. 3:5, sê hy: “as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” Die wedergeboorte, so word dit baie duidelik gestel, is ‘n vereiste vir enigeen wat God wil leer ken en toegang wil kry tot die dinge van God.


Die wedergeboorte beteken dieselfde as herskepping en dit hou in dat die geaardheid van die gevalle mens herskep word. Die Bybel stel verlossing voor as die vrykoop-hernuwing van ‘n mens, gegrond op ‘n herstelde verhouding met God deur Christus wat in daardie mens lewe. Hierdie vrykoop bring voort ‘n radikale en algehele transformasie in die gees van die mens waardeur hy ‘n nuwe mens word, wat in heiligheid en kennis van die waarheid vernuwe word na die beeld van God (Efes. 4:24; Kol. 3:10). Hierdie is ‘n nuwe mensras wat nie meer konformeer met die wêreld nie (Rom. 12:2; Efes. 4:22; Kol. 3:9). Herskepping is die geboorte waardeur hierdie werk – die voortbringing van ‘n nuwe skepping- aanvang neem.

Die sondige natuur (Satan se geaardheid) – wat wetteloos, goddeloos en selfgesentreerd is (Rom. 3:9-18; 8:7) en wat die mensdom beheers sedert Adam se ongehoorsaamheid – word deur die herskepping vervang met ‘n nuwe mens wat vertroue en liefde het, wat berou het vir rebelsheid en ongeloof van die verlede, en voortaan onderworpe is aan die wet van God. Herskepping verlig harte wat blind is om geestelike realiteite in te sien (1 Kor. 2:14-15; 2 Kor. 4:6). Herskepping bevry en bemagtig die vasgevange eie wil tot vrye gehoorsaamheid aan God (Rom. 6:14; Fil. 2:13).

Die gebruik van die woord wedergeboorte om hierdie verandering te beskryf beklemtoon twee feite.  Die eerste feit om in ag te neem rakende die wedergeboorte is die beslistheid daarvan.Die herskepte mens het vir ewig opgehou om te wees wat hy was.  Sy ou lewe is verby en ‘n nuwe lewe het begin. Hy is ‘n nuwe skepping in Christus. Hy is begrawe met Christus, buite die bereik van veroordeling, en is ook met Christus opgewek uit die dood tot ‘n nuwe lewe van regverdigheid (Rom. 6:3-11; Kol. 3:9-11).

Die tweede feit rakende die wedergeboorte is dat dit alleenlik deur God gegenereer is. Babatjies genereer nie of werk nie mee aan hulle eie verwekking of geboorte nie. Net so is daar geen manier wat diegene wat dood is in oortredinge en sonde, die verwekkingsdaad van God kan aanhits of inisieer wat betref die voortbring van Sy Seun in hulle nie (Efes. 2:1-10). Geestelike lewendmaking is ‘n vrye, en vir die mens, ‘n misterieuse werking van goddelike krag (Joh. 3:8). Dit kan nie verklaar word in terme van die ontwikkeling van bestaande menslike hulpmiddels, of die kombinasie daarvan met dit wat tot God se beskikking is, nie. Die wedergeboorte word ook nie veroorsaak of in werking gestel deur enige menslike pogings (Joh 1:12-13) of enige menslike verdienste nie (Titus 3:3-7). Wanneer God Sy saad in ‘n gelowige plaas, is dit ‘n hele volledige saad; daar is niks meer wat by daardie saad bygevoeg kan word nie. Dus, wanneer die gelowige gedoop (geplaas) is in Christus (1 Kor. 12:13) en die wedergeboorte vind plaas, het daardie gelowige Christus volledig in hom, want daar is niks meer van Christus wat aan hom gegee kan word nie, net soos ‘n pasgebore baba nie weet wat alles met hom gebeur het nie. Dit beteken dat daar nog baie is wat die nuutgebore gelowige moet leer. Die een aan wie die lering van die nuwe gelowige toevertrou is, is die Heilige Gees. Oombliklik met die wedergeboorte van die nuwe gelowige, het die Heilige Gees gekom en blyplek gevind in sy siel/verstand.

                                                                                                        1.              


Gaan na bladsy 1. 2. 3. 4. 5. 6. 7. 8.