4.

Verwarring oor Geestelike Groei


Noudat ons die kwessie van ewige lewe ondersoek het, is ons gereed om aan te beweeg na die onderwerp van geestelike groei.  Ons het vir baie lank die geestelike groei van die gelowige verwar met die wedergeboorte. Dis twee verskillende dinge. Groei in Christus – dit is, groei waardeur gelowiges begin uitvind wie hulle is deur Christus wat in hulle is – is iets heeltemal anders as die wedergeboorte. En dit is die wedergeboorte wat die feit staaf dat die totaliteit van Christus alreeds in daardie gelowige aanwesig is. Christus is aanwesig in die gelowige nie omdat die gelowige leer wie hy is nie, maar deur ‘n wonderwerk-gawe van God. Dit is God wat Sy Seun in die gelowige plaas om daardie gelowige vir Hom aanvaarbaar te maak, ongeag of die gelowige ooit dit gaan agterkom of nie, en of die gelowige geestelik groei of nie.


In die Ou Testament word hernuwing uitgebeeld as die werk van God wat die harte van die Israeliete nuutmaak, besny en sagmaak, Sy wette daarop skryf  sodat hulle Hom kan ken, liefhê en gehoorsaam soos nooit tevore nie (Deut. 30:6, Jer. 31:31-34). Dit was ‘n suiweringswerk vanuit die verontreiniging van sonde, en dit het die Israeliet se eie energie en werke geverg. Dit het beteken dat as ‘n Israeliet God se wet onderhou het, sou hy ‘n verandering in homself laat plaasvind het deur sy eie werke. Dit is janmmer dat vandag meeste gelowiges steeds die Ou Testamentiese eie-werke evangelie moet aanhoor. Hulle strewe naarstigtelik om te “groei” as Christene, maar kom tog nooit uit by die volheid van Christus nie, want dit kan nie deur eie werke bereik word nie. In die Nuwe Testament, na die Kruisiging en na Pinkster, word die konsep van hernuwing duideliker omskryf as iets wat niks te doene het met ‘n gelowige se handelinge of eie werke nie. Alles wat gedoen word, word deur God gedoen, want Jesus het vir Nikodemus gesê in die derde hoofstuk van Johannes dat mens moet opnuut gebore word uit die Woord (water) en die Gees. Dit beteken dat hernuwing uitsluitlik van Bo is en geheel en al van God (Joh. 1:13).


Die feit dat hernuwing van God is – en nie ‘n uitvloeisel van die gelowige se “groei” nie – word nege keer genoem in die Eerste Brief van Johannes, en is integraal tot die kwessie dat God Sy geliefde Seun in die gelowige plaas. In die Evangelie van Johannes, verseker Jesus vir Nikodemus dat daar geen sprake is van geestelike aktiwiteite of om God se koninkryk te sien of binne te gaan, sonder hernuwing deur wedergeboorte nie. Johannes verklaar verder dat slegs diegene wat wedergebore is deur God, Christus ontvang en in aanmerking kom vir die voorregte van God se kinders (Joh. 1:12-13). Verder sê Johannes dat daar geen wedergeboorte is wat nie ook geestelike aktiwiteite meebring nie. Die wedergeborene doen geregtigheid (1 Joh. 2:29) en lei nie ‘n lewe van sonde nie (3:9; 5:18). Die teenwoordige tyd in hierdie verse dui daarop dat die gelowige nou ‘n gewoonte- wetsonderhouer is, alhoewel nie absoluut sondeloos nie (1:8-10).  Omdat hulle deur God wedergebore is, kan gelowiges nou ander gelowiges liefhê (4:7); hulle glo opreg in Christus en ervaar geloof se oorwinning oor die wêreld (5:4).  Johannes sê spesifiek dat enigiemand wat anders optree, maak nie saak wat hulle sê hulle is nie, is steeds ongebore kinders – kinders van die duiwel. Hoe dankbaar moet ons nie wees vir Johannes se woorde nie.

                                       

Sondaars is kinders van die duiwel

Met die verspreiding van die boodskap van die Christus-lewe, het ons gevind dat die hoofrede hoekom talle Godvresendes en gelowiges wat ontsag het vir die Bybel, nie die volheid van Christus binnegaan nie, is omdat hulle nooit tot die besef gekom het dat hulle, voor hulle wedergebore was, kinders van die duiwel was nie. Ofskoon beide Paulus en Johannes dit baie duidelik oor en oor in hulle briewe sê, dat die sondaar ‘n kind van Satan is en sy natuur in hom het, was ons stadig om hierdie feit te aanvaar en te verwerk binne ons verwysingsraamwerk.  Die eindresultaat is dat ons nie Satan gesien het as die dood-lewe van die sondaar voor sy wedergeboorte nie. Daarom was dit ook vir ons moeilik om in te sien dat Christus die enigste lewe van die gelowige is. Wat dit betref, sien ons nou dat die belangrike konsep van ewige lewe beliggaam is in drie fundamentele waarhede wat die Skrif leer. Eerstens word herlewing beskryf as ‘n wedergeboorte afkomstig van God. Die skenking van ewige lewe plaas die gelowige in ‘n Vader-kind verhouding met God. Tweedens word die nuwe lewe in Christus beskryf as ‘n geestelike opstanding. Nie alleen is die gelowige saam met Christus uit die dood opgewek nie (Kol. 3:1), maar hy is lewend gemaak nadat hy dood was (Rom. 6:13). Christus het dit vooruit gesien met Sy profesie: “…[D]aar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe’ (Joh. 5:25). Derdens word die skenking van ewige lewe vergelyk met ‘n skeppingsdaad. Soos Adam ‘n lewende siel geword het deur die asem van God, net so, word die gelowige ‘n nuwe skepping deur die wedergeboorte (2 Kor. 5:17). Die Bybel verklaar dat die een wat nou ewige lewe besit, geskape is in Christus Jesus tot goeie dade (Efes. 2:10).


Identifikasie met Christus

Dit bring ons by die vraag: Hoe word ons as een met Christus saamgevoeg? Hierdie vraag lei ons onvermydelik na die kwessie van identifikasie. Identifikasie met Christus is een van die essensiële begripsvlakke, waarby elke gelowige wat wil opgroei in Christus moet kom. Daar is baie wat hierdie eenvoudige waarheid ontwyk deur hulleself met baie ander leerstellings op te saal. Daar is dié wat verkies om agter kerksheid te skuil, of om staat te maak op hulle kerk se leerstelling, in plaas van om ag te slaan op bybelse identifikasie. Dikwels word hulle gefrusteerd in hulle Christelike lewenswandel omdat hulle hulself afgesloof het in dienswerk of uit pligsbesef. Andere het ondervindinge met die Heilige Gees gebruik as plaasvervanging vir identifikasie, maar hulle het ook begin moeg raak vir al hul oënskynlike goeie werke. Die teologiese leerstelling van identifikasie met Christus word verkry van die Nuwe Testament wat Christene sien as “in Christus.” Hierdie waarheid is die mees verklaarde en mees kragtige en deurtastende boodskap van die Nuwe Testament. Die eenvoudige stelling dat die gelowige “in Christus” is word minstens 146 keer net deur Paulus genoem, waar dit direk verwys na eenwording met Christus. In ‘n meer algemene sin, word Christus ook met die mensdom geïdentifiseer as die tweede Adam. In dié geval is dit ‘n fisiese werklikheid.


 Jy in Christus, Christus in jou

Die teologiese konsep van identifikasie met Christus, koppel ‘n gelowige met die persoon en werk van Christus deur goddelike toerekening, deur die mens se geloofservaring en deur die geestelike eenwording van die gelowige met Christus. Daardie eenwording word bewerkstellig wanneer die Heilige Gees die gelowige in Christus plaas.


                                                                    4.

Laai hierdie artikel “Christus lewe in my.pdf” hier af.

Home

About

Articles

Ons

Site Map

Gaan na bladsy 1. 2. 3. 4. 5. 6. 7. 8.