Home

About

Articles

Ons

Site Map

                                                                    5.

Christus Leef in My | Eenwording


Wanneer die Heilige Gees die gelowige in Christus plaas (Gal. 3:27) vind ‘n doop plaas wat die persoon op ‘n unieke en sonderlinge wyse as ‘n indiwidu in Christus in doop. (Die woord doop soos wat dit in hierdie verse gebruik word, beteken nie waterdoop nie, maar verwys na ’n algehele plasing en totale indompeling in Christus.) Die wedergebore persoon word ook terselfdertyd in die Liggaam van Christus gedoop (1 Kor. 12:13) , wat eintlik die Kerk is. Hierdie nuwe verhouding van om in Christus te wees, is die eerste keer deur die Here verkondig aan Sy dissipels in die bovertrek in Sy verklaring: ”… julle in My [en moi], en Ek in julle” (Joh. 14:20).  Hier moet verduidelik word dat daar geen verskil is tussen Christus in die gelowige en die gelowige in Christus nie. Sommige wil ‘n onderskeid maak, maar dit word nie deur die Skrif gesteun nie. Die siening word ook nie deur die natuurlike wêreld onderskraag nie soos wat deur hierdie eenvoudige voorbeeld geïllustreer word: as jy ‘n sokkie in water plaas, is dit nie net die sokkie wat in die water ingaan nie, maar ook die water wat in die sokkie ingaan. Daar is ‘n onskeibare eenwording tussen die twee. Net so is dit met die in-Christus posisie. Die nuwe verhouding van die gelowige in Christus word inderdaad omskryf as ‘n nuwe posisionering en kom alleenlik tot stand op grond van wat God doen.


Eenwording is Identifikasie

Hierdie nuwe verhouding is meer as net ‘n posisionele een as gevolg van goddelike toerekening, want Christus het spesifiek gesê: “Ek is in jou.” Die leerstelling wat uit hierdie stelling voortvloei, word omskryf deur die woord eenwording wat gewoonlik as sinoniem vir identifikasie deurgaan. Daar is ten minste sewe illustrasies wat in die Skrif gebruik word, wat dui op hierdie eenwording en identifikasie. Die mees prominente een is waar Jesus praat oor die wingerdstok en die lote in Johannes 15:1-6. Hier word die eenheidslewe geïllustreer deur gemeenskaplikheid, en die vrug is die gevolg van die eenwording van die loot en die wingerdstok. Die loot is in die wingerdstok en die lewe van die wingerdstok is in die loot. Alhoewel daar verskeie ander interessante illustrasies gevind word in die Skrif, is daar geen Christelike lewe moontlik sonder hierdie eenwording nie. As daar dan nou ‘n eenwording is en die twee het een geword, wie sal die hoof wees? Die Skrif sê duidelik dat Christus die hoof van die kerk is, en eenwording vind hier plaas. Net so is Christus die hoof of die “eggenoot” van die gelowige. Gelowiges, beide manlik en vroulik, bly die “vrou” onder die Christus-hoof. Die “vrou” word nooit die “man” nie  en die gelowige word nooit Christus nie. Tog, wanneer dit oor lewe gaan, is dit Christus, die hoof, wat die lewe voortbring deur die “vrou-gelowige.” Die “vrou” kan nie op haar eie lewe voortbring nie en is heeltemal hulpeloos sonder haar man. Dis ook so met die gelowige. Gelowiges kan geen vrugte dra op hulle eie nie. Vrugte kom slegs van die wingerdstok, die Christus-hoof. Daarom, wat betref eenwording, het die Apostel Paulus gesien dat die “vrou” moet haarself opgee om ‘n Christus-self te word. Sy moet eintlik haar eie wil prysgee om die wil van haar “Christus-man” te vervul, want sy kon alleenlik dood in haarself voortbring. Alle lewe kom van die “Christus-man.” So, as ons nou sê dat die enigste lewe wat ons nou het is Christus, dan is ons verseker deur die Skrif dat dit nie anders kan nie. Hierdie waarheid is dit wat Paulus daartoe genoop het om te sê: “... ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.”


Op die ou end: Christus as Ek

As dit so is, dan is dit noodsaaklik om tot die Galasiërs 2:20 ervaring te kom om God se uiteindelike oogmerk te vervul. Ons moet nou nie terugdeins van wat ‘n eenvoudige gevolgtrekking is nie. As Christus, in die oë van God die enigste lewe in ons is, en ons in die proses van ons groei begin agterkom dat Hy ons enigste lewe is, dan is dit Sy natuur, Sy persoonlikheid, Sy wil en Sy weë wat uiteindelik die botoon sal voer. By hierde vlak van insig kan ons verklaar: “Christus lewe in my, en Christus lewe as ek.” Hierdie stelling impliseer glad nie dat die “vrou” die “man” geword het nie. Dit is eerder die “vrou” wat sê: “My Man is die verskaffer van lewe in my, en dis Sy wil en persoonlikheid wat my natuur is, en daarom leef Hy nie net in my nie, maar ook as ek.”


Identifikasie met Christus het nietemin sy beperkings.  Christus word geïdentifiseer met die hele mensdom in Sy vleeswording. Maar slegs die wat glo in die Here Jesus Christus en wat wedergebore is, word geïdentifiser met Christus. Die identifikasie van ‘n gelowige met Christus lei daartoe dat sekere aspekte van die persoon en werk van Christus toegeskryf word aan die gelowige. Dit strek egter nie sover dat die gelowige die goddelikheid besit van die tweede persoon van die Drie-Eenheid nie. Op geen stadium word die goddelike eienskappe van Christus, die Skepper, tersyde gestel nie, want die gelowige word nooit deel hiervan nie. In die geheel gesien, is identifikasie met Christus een van die belangrikste leerstellings en noodsaaklik vir die hele Christus-lewe openbaring.


Ou Dinge Het Verbygegaan

Die gelowige wat tot die insig gekom het dat “Christus lewe in my” weet dat om ‘n kind van God te wees is groter en belangriker as enige ander verhouding in sy lewe. 2 Korintiërs 5:17 sê dat “die ou dinge het verbygegaan.” Ons glo dat die ou dinge wat verbygegaan het is al daardie dinge wat te doene het met die verganklike saad (1 Pet. 1:23). Die verganklike saad was ons eerste verwekking, soos ons deur ons vaders en moeders in sonde verwek is, wat die Satan dood-lewe is. Hierdie sonde-natuur kon slegs uit mense uitgeneem word deur God wat Sy Lam offer by Golgota. Die opoffering van Christus by Golgota het God die reg verleen om Satan uit die gelowige hart te verwyder en Christus daarin te plaas. So dikwels, wanneer ons praat van Christus in ons, is daar baie opregte mense wat dit wat ons sê verkeerd verstaan, hoofsaaklik omdat hulle nie ons sleutel tot die Skrif, die wedergeboorte, verstaan nie. Die Bybel verklaar onomwonde die onderskeid tussen die mens as ‘n skepsel en die uniekheid van Christus wat in ons leef.  Soms wanneer mense hierdie boodskap hoor, sonder om mooi te luister na die inhoud en waarheid daarvan, beweer hulle dat Christus-lewe gelowiges verklaar dat hulle self ‘n godheid geword het.


Gelowiges Word Nooit Godhede nie

Die idee van vergoddeliking is geheel en al verkeerd en verg verdere bespreking. Deur die eeue het hiedie kwessie van vergoddeliking verskeie vorme aangeneem en talle lande en kulture oorspan. Heelwat konings in die Ou Testament het geglo dat hulle met goddelikheid beklee is, dat hulle gode was. Die Grieke het geglo dat hulle goddelik was en het talle mites en godsdienstige oortuigings oor onsterflikheid en oor “goddelike eienskappe” van die siel versin. Helde en weldoeners het goddelike verering ontvang en, ten minste vanaf die vyfde eeu V.C. is goddelike verering verleen aan lewende mense.

                                                                                      5.


Laai hierdie artikel “Christus lewe in my.pdf” hier af.

Gaan na bladsy 1. 2. 3. 4. 5. 6. 7. 8.