HOEKOM EK NIE IN ‘N DRIE-ENIGE GODHEID GLO NIE.

Notas:
1. Vir baie jare het ek geglo in die Drie-enigheid van God. Een van my beste vriende, 'n broer in Christus, het ons klein groepie meegedeel dat die drie-eenheid leerstuk vals is en God (Yahweh) ontstel. Vir my was dit byna godslasterlik dat iemand so iets kon sê. Ek het verplig gevoel om hom verkeerd te bewys. Ure en ure se studie het gevolg. Lang storie kort: ek kon hom nie verkeerd bewys nie.

2. Daar is wonderlike Christene wat glo in die Drie-enige God. Hulle is nie “verlore” nie en ek koester geen negatiewe gevoelens teenoor hulle nie. Net soos ek was, is hulle opreg.

3. Om verwarring uit te skakel, moet daar duidelikheid verkry word oor die woord “God” of “god”. Daar is twee punte om in gedagte te hou: (1) daar is geen onderskeid tussen hoofletters en kleinletters in beide die Hebreeuse sowel as die Griekse teks van die Bybel nie – die Griekse teks was alles net hoofletters. Die vertalers moes uit die konteks aflei, of “god” met hoofletter of kleinletter geskryf moes word. (2) Die woord “god” het nie in Hebreeus, en ook in Grieks, uitsluitlik na ‘n godheid verwys soos ons dit vandag verstaan nie. Dit kon bv verwys na ‘n regsprekende beampte (regter of landdros) (bv. Joh. 10:34) of selfs 'n vals god (bv Hand. 14:11). In die debat oor die kwessie van die godheid aldan nie, van Jesus, word met die begrip “God” bedoel, “God” met ‘n hoofletter G as een wat aanbid kan word.

4. Daar kan ook verwarring wees oor die woord “Here” en “HERE”. As ons teruggaan na die oorspronklike teks (beide Hebreeus en Grieks), beteken “Here” nie noodwendig “God … met hoofletter G nie”. In sommige vertalings van die Ou Testament word hoofletters gebruik, “HERE” vir YHWH of Yahweh, die naam van God. In daardie gevalle beteken dit God, want dit verwys na Sy persoonlike Naam.  Wat die waters vertroebel is dat “Here” ook vertaal word vir die Hebreeus Adonai, wat meestal na God (as Meester) verwys, maar ook kan verwys na 'n gesagspersoon. “Here” in die Nuwe Testament (Grieks: kurios) beteken nie “God” nie, maar “meester”, of eienaar”, of “heer” (Engels “sir”.)  Die slotsom is dat die woord “Here” nie noodwendig na God verwys nie. Jesus is Here, maar dit is nie te sê Hy is God nie.

5. Dat Jesus nie God is nie, beteken nie dat ons nie tot hom mag bid nie en dat ons hom nie vereer nie. Die Woord sê ons moet Jesus vereer [Grieks: timao] soos ons die Vader vereer en God sal ons ook vereer [Grieks: timao] wat Jesus dien (Joh. 5:23, 12:26). Ons aanbid en vereer hom egter nie as God nie. Dit wil sê ons mag met hom kommunikeer en hom dinge vra in gebed, maar ons noem hom nie God nie, of Allerhoogste nie.

6. Dat Jesus nie God is nie, doen nie afbreuk aan die waarheid dat Jesus ons redder is nie en dat hy die enigste weg is tot versoening met God (Yahweh) en 'n nabye verhouding met Hom en die enigste weg tot ewige lewe.

7. In hierdie studiestuk word die Nuwe Vertaling 1983 gebruik, behalwe waar anders aangedui.

MY ARGUMENT
Ten eerste, die woorde “drie-enige”, “drie-eenheid” of enige soortgelyke uitdrukking kom nêrens voor in die Bybel nie.

God wil hê ons moet Hom, asook Jesus , leer ken (sien Joh. 17:3, Rom. 1:19-20), maar nêrens het Hy homself (of het Hulle hulself) as ‘n drie-enige Godheid beskryf of openbaar nie.

Die Bybel verwys 42 keer na Jesus as die Seun van God, maar nêrens word Hy “God die Seun” genoem nie. Trouens, daar is nie een enkele vers wat sê “Jesus is God” nie of “Christus is God” nie. Geen mens het die reg om een woord by die God-geїnspireerde teks by te voeg of daarvan weg te neem nie (Openb. 22:18; Spr. 30:5-6). Dit is wanneer die mens probeer om “reg te stel” of by te voeg aan dit wat God reeds gedoen het, wanneer kaarte deurmekaar gekrap word.

Daar is talle tekste waar na God (aan die eenkant) en na Jesus of Christus (aan die anderkant) verwys word. Sien veral die inleidende woorde van talle sendbriewe in die Nuwe testament, soos bv in Rom. 1:7  “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus.” (Onthou, “Here” (Grieks: kurios beteken nie “God” nie, maar “meester”, of “heer”.) Ook in 1 Kor. 1:3 “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!”  Sien ook 2 Kor. 1:2, Gal. 1:3, Efes.1:2, Fil. 1:2, Kol. 1:2 en 1 Tess. 1:1. Paulus het gereeld na homself verwys as 'n apostel wat nie deur mense aangestel is nie, “maar deur Jesus Christus en deur God die Vader”. (Sien 1 Kor 1:1, 2 Kor. 1:1, Efes. 1:1, Kol. 1:1, 2 Tess. 1:2, 2 Tim. 1:1.

Daar is talle ander tekste wat verwys na God en Jesus as aparte wesens:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!
(1 Pet. 1:3)
Van Jakobus, 'n dienaar van God en die Here Jesus Christus. (Jak. 1:1)
________________________________________________________________________________
In die 1933/53 Afrikaanse vertaling, die Nuwe Lewende Vertaling en in die King James Version. Ongelukkig word dit nie in die 1983 Afrikaanse vertaling gebruik nie.
Bv in Luk. 19:33, die eienaars van 'n donkie.
_______________________________________________________________________________

Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het hiedie openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee..... (Openb. 1:1)

As Jesus God was sou daardie tekste misleidend wees.

Daar is een teks in die verband wat ondubbelsinnig die spyker op die kop slaan. Jy kan nie sê dis beeldspraak nie of die teks is nie korrek vertaal nie. Dit maak die hele kwessie so duidelik soos daglig:

Daar is immers net een God,en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Jesus Christus.
(1 Tim. 2:5).

Daar is net een God. Daar is nie drie nie en dit is ook nie drie in een nie of een in drie nie. Daar is net een Middelaar. Dit is Jesus Christus, die mens. Jesus is mens. Hy is nie Mens-God nie. Hy is ook nie God-Mens nie. Ons mag nie byvoeg by die Woord van God nie.

Die Bybel (Ou en Nuwe Testament) is baie duidelik dat daar net een God is. Kyk na Deut. 6: 4, 32:39, Jes. 43:10, 44:6,8, Markus 12:29 , Joh. 17:3, 1 Kor. 8:6 en Efes. 4:6. Een van die groot sondes van Israel van ouds was dat hulle ander gode (bo en behalwe Yahweh, die enigste ware God) wou aanbid.

Die Heilige Gees is die Gees van God (Gen.1:2, Mat.3:16, Efes. 4;30. Nêrens in die Bybel word dit (of Hy?) duidelik uitgebeeld as ‘n aparte persoon in die Godheid nie. Jy en jou gees is nie twee aparte persone nie. God en Sy Gees is nie twee aparte persone nie.

Daar is geen getuienis dat die vroeё Kerk die drie-eenheidsleer aangehang het nie. Trouens, dit was eers driehonderd jaar na Christus se dood en opstanding wat die “amptelike kerk” die leerstelling aanvaar het. Bykans driehonderd biskoppe het die Raad van Nicaea bygewoon en na hewige debat het die meerderheid gestem ten gunste van die drie-eenheid leerstellling. Omtrent 60 jaar later (381 NC) was daar weer 'n Raad en hierdie keer het hulle besluit dat die Heilige Gees ook God is. Dit was ook in hierdie periode wat die kerkleier Ambrosius verklaar het dat omdat Jesus God is, is Maria die moeder van God en hoof van die kerk.

Die “amptelike kerk” was die Roomse kerk wat onder die gesag van die Keiser was. Baie vrae kan gevra word oor die geldigheid van leerstellings en gebruike wat in daardie tyd deur daardie kerk ingevoer is.


Sodra die mens probeer byvoeg by wat God reeds gedoen het, word die kaarte deurmekaar gekrap.

Na ‘n verdere verloop van 120 jaar, so om en by 500 NC, is die Athanasiese geloofsbelydenis uitgevaardig wat die amptelike leerstelling neerlê soos dit vandag nog bestaan by meeste denominasies: Dit leer o.a. daar is een God in Drie enigheid, maar een Persoon van die Vader, en een van die Seun en een van die Heilige Gees. Nie een van die Persone is groter as die ander een nie, hulle is gelyk aan mekaar. Hierdie is die Katolieke geloof en tensy ‘n persoon daaraan glo, sal hy nie gered word nie.
__________________________________________________________________________________
Die enigste vers in hierdie kategorie wat moontlik suggereer dat Jesus ook God was, is 2 Pet. 1:1  “....Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser Jesus Christus , dieselfde kosbare geloof ...ontvang het.” Die vers moes vertaal gewees het: .”..van ons God en ons Verlosser Jesus Christus.” Dit is die alternatiewe vertaling wat in Engelse Bybels soos Weymouth, Rotherham (kant-aantekening), ASV, Noah Webster Bible gebruik word. Dit is meer korrek omdat dit strook met die vertaling in die ander sendbriewe (soos reeds hierbo bespreek) en ook met die feit dat nerens verklaar Petrus dat Jesus ook God is nie..
__________________________________________________________________________________

Wat nie alombekend is nie, is dat teen 380 NC, enigeen wat nie die Drie-eenheid leerstuk aanvaar het nie as ketter gebrandmerk is en dat die owerheid die “ketters” kon straf en dat daar gevalle was waar die doodstraf opgelê is!

Kan enigeen eerlikwaar sê dat hierdie “amptelike kerk” gelei en ge-inspireer was deur die Heilige Gees? ‘n Kerk wat mede-Christene doodmaak wat nie met hulle saamstem nie?

Kom ons keer terug na die Bybel:

Yahweh (God, wat later Homself openbaar het as die Vader van weergebore kinders) is die enigste God wat ons moet aanbid en vereer as God. Daar is geen ander gode nie. (Eks. 20:3, Jes. 43:6, 10-11, Jes. 45:5, Joh. 20:17, Efes. 4:4-6, 1 Tim. 2:5).

As God meer as een was, of “drie in een” , dan was dit ‘n fundamentele leerstelling en sou mens verwag dat God dit baie duidelik sou gestel het in Sy Woord. Onthou, dit het die “amptelike kerk” driehonderd jaar geneem om dit aangeneem te laat word as ‘n doktrine van die kerk. Hoekom so lank?
Hoekom met soveel teenkanting? Want tensy jy dit “inlees” in sekere Bybeltekste, of dit vertolk met ‘n “drie-eenheid bril”, gaan jy geen enkele teksvers kry wat dit leer nie.

Dan is daar die kwessie van Adam en die sondeval. Adam se sonde het die hele mensdom “aangesteek” met ‘n sondige natuur en die dood wat daaruit voortvloei. Die mensdom het ‘n Redder nodig om dít wat verkeerd geloop het, ongedaan te maak. Daardie Redder moes uit die menslike ras kom. ‘n Engel sou nie deug nie. Ook nie God nie. Kyk hoe het God dit gestel aan die slang (Satan) kort na die sondeval:

Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.  (Gen. 3:15 – 1983)


Die nageslag van die vrou sou Satan se kop vermorsel. Dit moes 'n mens wees wat daardie rol vervul. Daarom word hy ook “die laaste Adam” genoem. Jesus was die tweede of laaste Adam (1 Kor. 15:22, 45). Let wel, nie die “tweede persoon in die Godheid” nie, want dit staan nie in die Bybel nie. Hy is as mens verwek in die moederskoot van Maria, deur die Gees van God, sy Vader. Hy was dus nie besmet met sonde soos die res van die mensdom nie. “En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.” (Luk. 2:52). Hy was ten volle mens. Sy guns by God het met tyd gegroei. Die vers maak gladnie sin as hy God was nie.

Hy was versoek soos enige ander mens (Hebr. 4:15). En terloops, hou in gedagte dat God nie versoek kan word nie (Jak. 1:13). Tog het hy nooit gesondig nie. Dus kon hy as verteenwoordiger van die mensras, as laaste Adam, die hele mensdom se totale sondeskuld op sy skouers neem – die volmaakte offerande (Hebr. 9:11-15).

Wat van die tekste wat sê Jesus is die Woord en die Woord was van die begin af en die Woord was God? Wat van die tekste wat suggereer dat Jesus van ewigheid bestaan het en hom van sy goddelikheid ontneem het om mens te word? Wat van die tekste wat sê Jesus het alles geskape? Wat
__________________________________________________________________________________
Die vraag kan gevra word, wat van 1 Kor. 15: 45 – 47 waar gesê word: “Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword” en hy “is uit die hemel”. Dit beteken nie Jesus is uit die hemel gestuur om as ‘n menslike baba gebore te word nie. Die konteks is die opstanding. Jesus het met sy opstanding ‘n verheerlikte liggaam ontvang (vanuit die hemel). Dieselfde gaan gebeur met ons wat gered is. “…[S]oos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.” (1 Kor. 15:48). Terloops, let daarop dat Christus beskryf word as “die hemelse mens”!
_________________________________________________________________________________
van Thomas wat Hom genoem het, “My God”? Wat van die naam “Emmanuel” wat beteken “God met ons”? Wat van die tekste wat sê Hy is die Alfa en die Omega? Wat van die vers wat sê dat die volheid van God in hom woon?

Ek sal hierdie tekste hieronder behandel. Let egter dat dit steeds vas staan, dat geen teks sê Jesus is God nie of dat God ‘n drie-enige of drie-enigheid is nie. Daar is nie so ‘n vers wat ek hoef te behandel nie.

Maar laat ek nog Bybeltekste gee (met my beklemtonings in geel gemerk) wat 'n groot vraagteken plaas teenoor die drie-eenheidsleer.
_________________________________________________________________________________
Jes. 43:10-11  Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is—voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.  

Ek, Ek is die HERE, en daar is geen Heiland buiten My nie.  
_________________________________________________________________________________

Jes. 45:5   Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,  (Ons Vader is so genadig al ken die wat glo aan die valse drie einge god hom nie, omgord Hy hulle.)
_________________________________________________________________________________
Mat. 1:20, Luk. 1;35  Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees;  

En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.

[Nota: Hier word die eenheid van identiteit van God en Heilige Gees gestaaf. Heilige Gees het bevrug en God is die Vader.]  
__________________________________________________________________________________
Mark. 12:29   En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here; [Nota: Hierdie is ‘n aanhaling van Deut. 6:4: Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.  HERE met hoofletters verwys na Yahweh, d.w.s. God]
__________________________________________________________________________________
Joh. 5:43-44   Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem.  
Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die een God kom, soek julle nie?  
__________________________________________________________________________________
Die lys tekste is vanuit die Ou Afrikaanse vertaling 1933/53.
__________________________________________________________________________________
Joh. 14:28   Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.  [Volgens die “amptelike” drie-eenheidsleer is Vader, Seun en Heilige Gees gelyk.]
__________________________________________________________________________________
Joh. 17:3   En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.  
__________________________________________________________________________________
Joh. 20:17   Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.  [Nota: As Jesus God is, hoe kon hy ‘n God hê? Is die Heilige Gees vir God die Vader God? Is die “Drie” ondermekaar mekaar se God?]
__________________________________________________________________________________
Joh. 20:31
…. maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.  [Nota: Die doel van alles wat Johannes neergepen het, het niks te doen met die kwessie van dat Jesus God sou wees nie.]
__________________________________________________________________________________
Hand. 2:36   …. weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.
__________________________________________________________________________________
1 Kor. 3:23   
... maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.  
__________________________________________________________________________________
1 Kor. 8:6    …. tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.  
__________________________________________________________________________________
1 Kor. 11:3    Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.  
__________________________________________________________________________________
1 Kor. 15:24-28    Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.
Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  
Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  
Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  
En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.  
__________________________________________________________________________________
Efes. 1:3   Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus….
__________________________________________________________________________________
Efes. 4:4-6    Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping;  
een Here, een geloof een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.
__________________________________________________________________________________
Die bladsy raak te lank - Kliek hier om verder te lees.
Of Kliek hier as u ‘n probleem het om die bogenoemde skakel te gebruik.

Top Searches:
Do You Believed Your Bible
Jesus Came Down From Heaven|Really?
John 3:13 - No one has ascended into heaven...
36 Proofs From The New Testament Jesus Is Not God
Who is “The I Am” John 8:24
The 3rd Person of the Trinity is Jesus- Christ's Father?
Many more - Articles

Come Out of her the mother of all whores and her dauthers Rev 17:1-7, Rev 18:4